Vyf van Limpopo vas ná rooftog
2012-01-23 19:57
Johannesburg – Vyf mans is in hegtenis geneem nadat hulle ‘n 62-jarige vrou van ‘n onbekende hoeveelheid geld beroof en haar keelaf probeer sny het in Naboomspruit, het die polisie in Limpopo Maandag gesê.
Hulle het die deur van die vrou se huis Saterdagaand oopgebreek, het lt. kol. Ronel Otto gesê.
“Sy het om hulp geskree en met haar aanvallers gestoei. Hulle het die vrou met hul vuiste geslaan en haar erg beseer toe hulle haar keelaf probeer sny het met ‘n skeerlemmetjie.”
Die aanvallers het gevlug nadat hulle die geld, ‘n beursie en ‘n selfoon gevat het. Die polisie het hulle ‘n paar uur later in die gebied vasgetrek.
“Die vrou is in ‘n ernstige maar stabiele toestand in die Mokopane-hospitaal.”
Die mans sal na verwagting binnekort in die hof verskyn.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA