Vyf sterf in gru-botsing
2009-12-24 22:30
Johannesburg – Vyf mense is Donderdag dood en 24 beseer in ‘n taxi-ongeluk naby Ottoshoop, het amptenare in Noordwes gesê.
“Daar word beweer dat die bestuurder van ‘n Isuzu bakkie beheer van sy voertuig verloor het terwyl hy om ‘n draai gegaan het en trompop met ‘n Mercedes Benz Sprinter taxi gebots het,” het Lesiba Kgwele, woordvoerder vir openbare veiligheid, gesê.
Drie mans, ‘n vrou en ‘n vierjarige kind is in die ongeluk oorlede.
Die taxi was van Rustenburg na Mafikeng op pad en die bakkie van Mafikeng na Zeerust toe die ongeluk plaasgevind het.
Die bestuurders van beide voertuie is oorlede.
Nooddienstewerkers moes die oorlewendes met die kake van die lewe uit die wrakke sny.
Kgwele het gesê dat sy departement ‘n versoek doen op motoriste om die spoedbeperking te gehoorsaam en dat bestuurders van openbare vervoer voertuie genoeg rus kry.
- Sapa