Vyf met metropolisie-uniforms betrap
2013-02-09 13:15
Johannesburg – Vyf mense is in hegtenis geneem is nadat uniforms van die Johannesburgse metropolisie in hul besig gevind is, het 'n woordvoerder gesê.
Die mans is Vrydag in Midrand in hegtenis geneem.
Hoofsupt. Wayne Minnaar, woordvoerder, het gesê die mans het in twee Volkswagen Polo's gery toe hulle afgetrek en deur die polisie deursoek is.
Die polisie het beslag gelê op die uniforms en 'n onwettige vuurwapen. Die motors is ook intussen verbind met ander misdade.
"'n Ondersoek sal gedoen word omdat daar misdade vandeesweek aangemeld is, waarby mense, wat hulle as metropolisiebeamptes voorgedoen het, betrokke was."
Mans wat hulle as metropolisiebeamptes voorgedoen het, het vroeër vandeesweek twee motors in Midrand gesteel.
Supt. Edna Mamonyane het gesê drie mans in metropolisie-uniforms het Woensdag 'n Toyota Quantum naby Midrand afgetrek.
Hulle het in die voertuig geklim en die bestuurder van die voertuig na Eldorado Park geneem, waar hulle hom gelos het.
Maandag, in 'n soortgelyke voorval, is 'n motoris op die M1 tussen die Marlboro- en Graystonweg-afrit langs die pad gelaat nadat hy afgetrek en sy motor gesteel is.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA