Vyf in hof ná casino-rooftog
2010-09-30 21:28
Durban – Vyf verdagtes wat glo verbind kan word met ‘n rooftog by die Sibaya-casino het Donderdag en Woensdag in Durban in die landdroshof verskyn, het die nasionale vervolgingsgesag (NVG) gesê.
“Drie van die mans het Donderdag in die hof verskyn en die ander twee Woensdag. Al vyf verdagtes sal op 6 Oktober weer verskyn,” het Natasha Ramkisson, NVG-woordvoerder, gesê.
Drie van die verdagtes is Woensdag vasgetrek en die ander twee Maandag.
Volgens die polisie het ses gewapende mans die casino se hoofingang binnegestorm.
Die verdagtes het die casino-personeel in die geldkluis aangehou en met ‘n onbekende bedrag geld van die toneel gevlug.
“Daar was drie voertuie wat vir die verdagtes in die parkeerarea gewag het. Terwyl hul weggejaag het, het die verdagtes op ‘n man in sy motor geskiet,” kol. Jay Naicker, polisiewoordvoerder, gesê.
‘n Sesde verdagte is glo Woensdag in hegtenis geneem en sal Vrydag in die hof verskyn.
Die verdagtes is glo deel van ‘n sindikaat wat casino’s in Durban, Bloemfontein en Gauteng geteiken het.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA