Vyf gesoek ná mislukte transito-rooftog
2010-11-26 23:47
Johannesburg – Vyf mans word gesoek nadat hulle Vrydagoggend probeer het om ‘n transito-voertuig in Harare, Khayelitsha, te beroof, het polisie in die Wes-Kaap gesê.
“Daar is verneem dat die voertuig in Hlobo-straat gery het. Soos wat dit in Chwele-straat ingedraai het, het ‘n wit Isuzu DV in die kant van die transito-voertuig vasgejaag,” het woordvoerder Anneke van der Vyver gesê.
“Vyf onbekende mans, sommige van hulle met vuurwapens, het die transito-voertuig omsingel.”
Die 40-jarige bestuurder van die transito-voertuig het besef hulle wil hom beroof en het die voertuig onmiddellik teen ‘n hoë spoed agteruit gejaag.
Die mans het verskeie skote op die voertuig gevuur, maar hulle kon dit nie deurdring nie aangesien dit met koeëlvaste vensters en panele toegerus was.
Volgens Van der Vyver het die mans die Isuzu op die toneel gelaat en in ‘n bruin Honda Ballade gevlug.
Enigeen met inligting kan die Harare Speurdienste kontak.
Niemand is in die voorval beseer nie en geen geld is gesteel nie.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA