Vyf dood in ongeluk op N1
2012-01-30 07:10
Kaapstad – Vyf mense is dood nadat 'n taxi teen 'n stilstaande vragmotor op die N1 in Kraaifontein gebots het, het paramedici in die Wes-Kaap Maandag gesê.
Vanessa Jackson, woordvoerder van ER24, het gesê vier mans en 'n vrou is op die toneel dood en drie ander mense is beseer.
"Die insittendes is uit die taxi geslinger en is in die pad gevind."
Sy het gesê die vragmotor het in die pad (rigting Kaapstad) stilgestaan toe 'n taxi, wat sewe mense vervoer het, teen die voertuig bots.
Die ongeluk het omstreeks 04:00 naby die Brightonweg-afrit plaasgevind.
"Die linkerkant van die taxi is heeltemal afgeruk en die taxi het verskeie kere gerol voor dit tot stilstand gekom het," het Jackson gesê.
Twee passasiers en die bestuurder van die vragmotor is hospitaal toe geneem.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA