Vyf by myn geskiet in hernieude arbeidsonrus
2013-02-18 18:04
Johannesburg – Minstens 13 mense is Maandag beseer in arbeidsonrus by 'n myn van Anglo American Platinum (Amplats) in Rustenburg, het die polisie gesê.
Vier van die beseerdes is veiligheidswagte wat met pangas gekap is.
Minstens vyf werkers is ook geskiet in die voorval, wat plaasgevind het weens konflik tussen vakbonde.
Een van die werkers by die myn se Siphumelele-skag is volgens eNCA doodgeskiet, hoewel dié berig nog nie onafhanklik bevestig kon word nie.
Die Amplats-werkerskomitee het gesê vyf lede van die National Union of Mineworkers (NUM) is geskiet in 'n botsing met veiligheidswagte by die myn, het Sapa berig.
Een van die werkers is in die kop geskiet, het die komitee gesê.
Aanvanklike inligting het daarop gedui dat die skietery die gevolg is van 'n konflik tussen lede van NUM en die kleiner Association of Mineworkers and Construction Union (Amcu), het AFP berig.
Lesiba Seshoka, woordvoerder vir NUM, het die botsing bevestig, maar kon nie verdere inligting verskaf nie.
"Ek is nie bewus van die sterftes nie, ek is daarvan bewus dat daar mense beseer is," het hy aan AFP gesê.
Mpumi Sithole, 'n woordvoerder vir Amplats, het aan AFP gesê die maatskappy "is besig om besonderhede te versamel".
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Reuters