Vyf by O.R. Tambo geskors oor diefstal
2012-02-21 09:01
Johannesburg – Vyf werkers op die O.R. Tambo-lughawe is geskors weens diefstal uit bagasie.
Die lughawensmaatskappy van Suid-Afrika (Acsa) het die vyf die afgelope week geskors. Die polisie het twee van hulle gearresteer.
Tebogo Mekgoe, adjunk-hoofbestuurder van lughawebedrywighede op dié lughawe, het gesê dié optrede spruit uit Acsa se verskerpte veiligheidsmaatreëls op die lughawe.
“Acsa werk saam met al die rolspelers om veral bagasiediefstal stop te sit. Bagasiediefstal op dié lughawe het die afgelope twee jaar met meer as ’n derde afgeneem,” het Mekgoe gesê. Peutery met bagasie het afgeneem van 18 uit dié van 1 000 passasiers wat vertrek in Januarie 2010 tot 10,4 uit 1 000 ’n jaar later.
Hy het gesê Acsa het die afgelope vyf jaar sy infrastruktuur vir bagasiehantering verbeter. Acsa bestee sowat R7,2 miljoen per jaar aan die beveiliging van bagasie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld