Vyf babas sterf in hospitaal
2010-05-19 09:35
Johannesburg - Vyf babas is verlede Woensdag in die Charlotte Maxeke-hospitaal in Johannesburg aan diarree dood.
Die Gautengse departement van gesondheid het Dinsdag gesê hulle sal ondersoek instel na die oorsaak van die sterftes, hoekom dit nie voorkom is nie en of iemand verantwoordelik gehou kan word.
Simon Zwane, woordvoerder van die departement, kon nog nie sê watter simptome, buiten diarree en ontwatering, die babas getoon het nie.
Geen ander babas in die saal of die res van die hospitaal het enige van dié simptome getoon nie.
“Ons gaan die gesonde babas wel na ’n ander saal skuif, net ingeval dit aansteeklik is,” het Zwane gesê.
Volgens Zwane is die ondersoek reeds aan die gang.
Volgens hom het die verpleegsters die diarree opgemerk en probeer behandel.
“Weens die babas se onderontwikkelde spysverteringstelsels was dit egter moeilik.”
Qedani Mahlangu, Gautengse LUR vir gesondheid en welsyn, het gesê sy is geskok oor die sterftes en het ’n ondersoek gelas.
Die hospitaal is een van dié wat noodgevalle tydens WB 2010 moet behandel.
-Sapa
Volg Nuus24 op Twitter.