Vulstasie se kitsbank loop weer deur
2011-02-28 09:05
Bloemfontein - Dit het rowers Sondagoggend slegs drie minute geneem om ’n kitsbank in die winkel van die Engen-vulstasie in Pellissier op te blaas en met ’n onbekende bedrag geld te vlug.
Dit is die tweede keer dat rowers hul visier op dié kitsbank stel in soveel jaar en die vierde keer in sowat vyf jaar dat die vulstasie onder misdaad deurloop.
Volgens Cindy Plaatjies, dogter van Marcell Plaatjies, vulstasie-eienaar, het sowat vyf rowers met klapmusse op en gewapen met AK47-aanvalsgewere net ná 02:00 op die vulstasie toegeslaan.
Die kitsbank is binne die winkel en word elke aand elektronies met ’n veiligheidshek beveilig as die winkel omstreeks 22:00 toemaak.
Die hek het egter Sondagaand nie toegegaan nie.
Die rowers het die kassier in die winkel aangesê om die deur oop te maak.
“Vier van die rowers het die winkel binnegekom en een het agter by die petroljoggie gebly. Een van die vier rowers het reguit na die kitsbank gegaan en die plofstof gaan voorberei terwyl die ander geld van die kassier geëis het. Hulle het sowat R5 000 van die winkel gesteel,” het Plaatjies gesê.
Kort daarna het die plofstof afgegaan en is die kitsbank opgeblaas. Die geweld van die ontploffing het stukke van die kitsbank sowat 2 m ver geblaas, maar geen ander skade is aan die winkel aangerig nie.
Die rowers het die geld vinnig bymekaargemaak en gevlug.
Volgens Plaatjies is haar pa al twee keer in die verlede met pistole aangehou en beroof.
“Ons is verlig niemand is beseer nie. Hulle soek elke keer net die geld. Die kitsbank is veronderstel om veiliger binne die winkel te wees, maar dit lyk nie meer of dit is nie. Dit is baie frustrerend en die werkers vrees al vir hul lewe. My pa raak seker al gewoon daaraan,” sê Plaatjies.
Die polisie het reeds na die beeldmateriaal van die kringtelevisiekameras gekyk.
Geen skote is afgevuur nie en niemand is beseer nie.
Op Volksblad se Facebook-blad het lesers gekla dat Pellissier ’n nuwe brandpunt vir misdaad geword het.
Ene Llewellyn Lloyd skryf dit is die hoeveelste keer dat die Engen-vulstasie aangeval word en sê dit laat hom wonder waar die polisie is, wie se kantoor skaars 800m van die vulstasie is. “Waar is ’n mens veilig deesdae?” vra hy.
Chantelle de Jager skryf sy kan nie verstaan hoekom die kitsbank by die Engen-vulstasie elke keer opgeblaas word nie omdat dit binne die winkel is.
Sanchen Grobler sê “ek was vanoggend daar, het gesien die wagte (is) besig. (Ek) Het (die) bestuurder gevra wat aangaan, en hy’t net gesê die kitsbank is stukkend.”
Kapt. Chaka Marope, polisiewoordvoerder, het nie Sondag sy selfoon beantwoord om kommentaar te lewer nie.
- Volksblad