Vullissak-baba se ma steeds soek
2010-12-29 18:07
Kaapstad – Die polisie het ‘n saak van poging tot moord geopen nadat ‘n baba in ‘n swart vullissak in Oudtshoorn gevind is, het ‘n woordvoerder Woensdag gesê.
“Die baba is Maandagaand agter in die erf van ‘n huis in 15de Laan in Bongolethu gevind,” het kapt. Malcolm Pojie, polisiewoordvoerder, gesê.
“Die eienaar van die huis het die baba agter in die erf hoor huil en ondersoek ingestel. Die bebloede baba is in die sak gevind, met sy naelstring steeds vas aan die naeltjie.”
Volgens Pojie was die baba slegs ‘n paar uur oud toe hy gevind is. Die seuntjie is nou in ‘n stabiele toestand in die Oudtshoorn-hospitaal.
‘n Soektog na die ouers van die baba is van stapel gestuur.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA