Vuiste klap amper oor Malema se pos
2011-11-20 07:02
Johannesburg – Julius Malema gaan aan ’n jeugliga-tugproses onderwerp word as sy appèl teen sy skorsing van vyf jaar uit die ANC misluk.
Dit is nou kragtens die ANC-jeugliga se gewysigde grondwet.
“Die grondwet is duidelik. As die appèl onsuksesvol is, sal Malema aan ’n tugproses van die jeugliga, soortgelyk aan dié van die ANC, onderwerp word,” het Sindiso Magaqa, sekretaris-generaal van die jeugliga, gesê.
“Ons eie kongres sal dan self besluit of hy geskors moet word en of daar ’n nuwe leier aangewys moet word.”
Intussen sê prof. Dirk Kotzé, politieke ontleder aan Unisa, wie ook al Malema opvolg, sal nie só militant soos hy wees nie weens die opgeskorte vonnisse wat oor almal se koppe hang.
Luidens berigte wou Ronald Lamola, die jeugliga se adjunkleier, en Pule Mabe, tesourier-generaal, reeds handgemeen raak oor Malema se pos.
Kotzé sê Lamola kan as adjunkleier outomaties die waarnemende jeugligaleier word as Malema se appèl misluk.
“Die liga kan egter ingevolge sy grondwet ook ’n uitsonderlike kongres hou om nuwe leiers te kies.
“Dit kan gebeur omdat die ander lede van die huidige leierskorps almal opgeskorte strawwe van drie jaar opgelê is.”
Mabe het die afgelope week ontken dat daar tweespalt tussen hom en Lamola is.
“Ons is self verbaas oor dié bewerings.
“Dit is net ’n poging om die leierskorps te verdeel. Ons is baie verenig.”
Lamola het gesê: “Nie ek óf Pule (Mabe) kan net wil sê ons wil president wees nie.”
Volg Nuus24 op Twitter
- Rapport