Vuil wasgoed hoop op by hospitale
2011-01-11 10:13
Port Elizabeth. - Die provinsiale gesondheidsdepartement het bevestig twee Oos-Kaapse staatshospitale het 1000 kg vuil beddegoed en dat die moontlikheid bestaan dat pasiënte en pasgebore babas reeds in dié vuil beddens moes slaap.
Dié nare fiasko kom nadat dit aan die lig gekom het dat ’n private wasmaatskappy, wat gekontrakteer is om die Oos-Londense Frere- en die Cecilia Makhiwane-hospitaal se beddegoed te was, glo nie ’n enkele wasmasjien besit nie.
Sizwe Kupelo, woordvoerder vir die departement, het gesê planne is egter gereed om die situasie te beredder. Hoewel hy nie oor dié planne uitgewei het nie, het hy verseker die probleem sal so spoedig moontlik opgelos word.
Intussen het die verpleegvakbond Denosa die situasie as skokkend bestempel. “Ons veroordeel die behandeling van pasiënte in sulke onmenslike omstandighede ten sterkste,” het Asanda Fongqo, woordvoerder vir die vakbond, gesê.
- Volg Nuus24 op Twitter
- Volksblad