Toerisme-owerheid se bestuur 'n 'ramp'
2013-02-06 07:26
Bloemfontein – Die finansies en bestuursake van die Vrystaatse toerisme-owerheid is Dinsdag deur provinsiale politici as 'n ramp beskryf.
Die bestuur van die owerheid het voor die Vrystaatse oorsigkomitee oor openbare rekeninge verskyn.
Die politici het antwoorde geëis in verband met verskeie betalings waarvoor nie in die begroting voorsiening gemaak is nie, insluitend een van R4,5 miljoen en 'n ander van R4,2 miljoen.
Glen Netshivhodza, voorsitter van die Vrystaatse toerismeraad, het erken dat verskeie kontrakte wat deur die owerheid se voormalige uitvoerende hoof, Monyane Sefantsi, en die voormalige Vrystaatse LUR vir toerisme, Mxolisi Dukwane, afgeteken is, nie in die begroting was nie.
Sefantsi se kontrak is nie hernu nie.
Geen verduideliking kon gegee word vir verdere uitgawes van R917 000 nie. Dié uitgawes is deur drie van die raad se amptenare, insluitend Sefantsi, in 2012 by die Olimpiese Spele in Londen aangegaan.
"Dit raak 'n grap," het Van Rooyen gesê toe hy geen antwoorde kon kry nie.
"Dit kan nie so aangaan nie. Niemand hier kan 'n behoorlike antwoord gee vir wat gebeur nie."
Peter Frewen van die DA het uitgewys dat vyf amptenare van die toerismeraad nege vergaderings deur die loop van die jaar bygewoon het vir 'n totaal van R3 miljoen.
"As hulle iets gedoen het, is dit dalk iets anders, maar wat het hulle gedoen? Wys vir ons."
Netshivhodza, wat in Maart 'n raadslid geword het, en sy beamptes kon nie die vrae beantwoord nie.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP