Vrystaatse seun met porno betrap
2010-04-12 20:45
Johannesburg – ‘n Pornografiese DVD is in die besit van ‘n 15-jarige seun by 'n skool in Thabong gevind, het die polisie in die Vrystaat gesê.
Die seun is tydens ‘n ondersoek deur die polisie by die Hoërskool Nanabolela vasgetrek, het ao. Malebo Khosana , polisiewoordvoerder, in ‘n verklaring gesê.
“’n Pornografiese DVD, ‘n groot skroewedraaier, ‘n boksie vuurhoutjies en pakkie 20 sigarette is op die skoolgronde gevind. Die skroewedraaier, sigarette en vuurhoutjies is op die vloer gevind en kan nie met ‘n spesifieke leerling verbind word nie.”
Die seun wat die pornografiese materiaal in sy besit gehad het, sal nie krimineel vervolg word nie. Hy sal wel beradingsessies moet bywoon.
Hierdie klopjag kom nadat Ace Magashule, Vrystaatse premier, ‘n versoek aan die polisie gerig het om spesifiek op probleme skole in die area te fokus.
- Sapa