Vrystaat-man kry 33 jaar tronkstraf
2013-01-15 17:27
Bloemfontein – ‘n Man is Dinsdag in die Harrismith-hooggeregshof tot 33 jaar tronkstraf gevonnis vir verkragting, roof en seksuele aanranding, het die polisie in die Vrystaat gesê.
Tsietsi Mofokeng (30) is in Julie verlede jaar in hegtenis geneem vir die misdade wat hy tussen Junie 2011 en April 2012 gepleeg het.
Hy is in Desember skuldig bevind aan agt aanklagte van roof, drie van verkragting, roof met verswarende omstandighede en die seksuele aanranding van vier vroue, het sers. Mmako Mophiring gesê.
Hy het vroue gedurende die dag aangeval terwyl hulle na die kantore van die departement van onderwys gestap het.
“[Hy] het die slagoffers gegryp, hulle met ‘n mes gedreig, hulle verkrag en [dan] beroof van hul persoonlike besittings soos selfone en geld,” het Mophiring gesê.
Hy is in Oktober 2010 op parool vrygelaat nadat hy agt jaar in die tronk deurgebring het vir diefstal, huisbraak en roof.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA