Vryheidsparty skors lede oor 'Slag van Mangaung'
2012-12-19 12:02
Johannesburg – Die nuutgestigte Federale Vryheidsparty (FVP) het Woensdag in 'n uitgereikte verklaring bekendgemaak dat hy sy president, Hein Boonzaaier, en operasionele bestuurder, Johan Prinsloo, uit die party geskors het.
"Die uitvoerende raad het tydens 'n dringende vergadering op 19 Desember besluit om president Hein Boonzaaier en operasionele bestuurder Johan Prinsloo tot verdere kennisgewing te skors," het die nasionale sekretaris, Francois Cloete, gesê.
Boonzaaier en Prinsloo het Dinsdag saam met Mark Trollip en Martin Keevy in die Bloemfonteinse landdroshof op aanklagte van hoogverraad en terrorisme verskyn.
Die staat beweer dat hulle deel was van 'n groep wat die "Slag van Mangaung" beplan het om die "land se leiers uit wis".
Verder word beweer dat hulle saam met ander sedert die begin van die jaar probeer het om 'n nuwe verregse party, die Boere Party, te stig en sabotasie te pleeg.
Die saak is tot 8 Januarie uitgestel terwyl die vier verdagtes in aanhouding sal bly.
Trollip is Saterdag op die pad tussen Kimberley en Douglas in die Noord-Kaap vasgetrek terwyl Keevy by 'n gastehuis in Bloemfontein in hegtenis geneem is.
Prinsloo is in Springs voorgekeer en Boonzaaier is op dieselfde dag in Centurion in hegtenis geneem.
"Die party ontken steeds enige betrokkenheid in die beweerde terreur-komplot," het Cloete gesê.
'n Tussentydse president sal vandeesweek aangekondig word en in die pos dien tot die party se algemene kongres in Junie 2013 plaasvind.
Cloete het gesê die FVP sal in 2014 aan die algemene verkiesings deelneem om 'n mandaat te kry vir die selfbeskikking van die Afrikaner.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA