Vroue, man besteel juwelierswinkel
2011-10-10 09:38
Kimberley – Twee netjies geklede vroue en ’n man het Pyramid-juweliers in die North Cape-winkelsentrum Vrydagmiddag van ongeveer R70 000 se juweliersware besteel.
Marina Bornman (22), winkel-assistent, sê die twee vroue het vroegmiddag by die winkel ingekom. Hulle wou na verskeie juwele kyk en het gesê die een se man sal dit later kom betaal.
“Hulle wou weet of ek kan afslag gee, maar dit is nie vir my om te besluit nie. Hulle het na ’n taamlike duur hangertjie, wat in die venster uitgestal was, gekyk.
“’n Man kom toe ook die winkel in en staan by die deur.”
Bornman sê sy het die man gaan help en die eienares van die winkel het die twee vroue verder gehelp.
“Die man het na ringe gekyk en dit aangepas.”
Bornman sê sy dink die vroue het agter die eienares se rug van die kettings in die venster gegryp.
Nadat die man en die twee vroue by die winkel uit is, het hulle besef agt hangertjies van goud is uit die vertoonvenster gesteel.
Die polisie is ontbied.
Konst. Sergio Kock, polisiewoordvoerder, sê twee van die hangertjies is 18 karaat goud en die ander is 9 karaat.
Kock sê die manlike dief is ongeveer 1,9 m lank, goed gebou, praat Engels, het ’n donker gelaat en kort hare.
Die twee vroue is ongeveer 1,7 m lank, het swart hare of pruike en praat ook Engels.
Die polisie moedig juwelierswinkels aan om sekuriteitskameras te installeer.
Enigiemand met inligting oor die diefstal kan speurder-kapt. Leon Virtue by 082-495-4646 bel.
Volg Nuus24 op Twitter
- Volksblad