Vrou wil wys Kotzé het haar nie gebreek
2012-02-08 08:01
Nelspruit – Sy verduur nog baie pyn, maar het reeds begin om op te staan ná haar marteling en verkragting en die moord op haar seun.
Ina Bonnette (42) van Modimolle (Nylstroom) gaan selfs by ’n musiekdag ’n motiveringspraatjie vir die gemeenskap hou oor wat met haar gebeur het.
Sy het ook onlangs weer begin werk en gaan Vrydag die hofsaak van Johan Kotzé (50), haar vervreemde man en beweerde aanvaller, op dié dorp bywoon. “Sy wil hom (Kotzé) wys dat hy haar nie gebreek het nie,” het Elize Coetzer, ’n vriendin, gesê.
Kotzé het na bewering op Dinsdag 3 Januarie drie mans gehuur om Bonnette te verkrag. Die egpaar was besig om te skei.
Kotzé het Bonnette glo erg met verskeie voorwerpe aangerand. Hy het haar seun, Conrad (19), na bewering drie keer geskiet.
Coetzer het gister gesê Bonnette het sowat twee weke gelede weer as versekeringsmakelaar in die dorp begin werk.
Sy verduur nog baie pyn en kry nagmerries. Bonnette ontvang sielkundige berading.
“Party dae het sy al ’n glimlag op haar gesig, al kan ’n mens die seer in haar oë sien,” het Coetzer gesê.
Intussen beplan die gemeenskap van Modimolle om op Saterdag 3 Maart ’n musiekdag te hou om geld in te samel vir haar mediese koste. Bonnette moet nog verskeie rekonstruktiewe operasies ondergaan wat sowat R70 000 sal beloop.
Coetzer het gesê die musiekdag sal by die SunRock Lodge buite die dorp gehou word.
Verskeie plaaslike kunstenaars sal optree en daar sal kos- en klerestalletjies wees.
Dit is daar waar Bonnette haar motiveringspraatjie gaan hou. Coetzer het gesê kunstenaars en mense wat uitstalruimte by die musiekfees wil bekom, word benodig. Sy kan by 082 682 5396 gebel word.
Kotzé sal Vrydag saam met drie medebeskuldigdes in die Modimolle-landdroshof verskyn. Die vier staan elk tereg op 17 aanklagte, waaronder moord, poging tot moord, verkragting en sameswering tot verkragting.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld