Vrou voor kinders verkrag
2011-03-07 14:49
Durban – 'n Vrou is ten aanskoue van haar tweejarige tweeling en twee weke oue baba in Pietermaritzburg, KwaZulu-Natal, verkrag, het die polisie Maandag gesê.
"Daar word beweer dat die slagoffer se 42-jarige ma beveel is om haar gesig te bedek. Die verdagte het toe die 18-jarige slagoffer beveel om op die vloer te lê, waarna hy haar verkrag het," het ao. Joey Jeevan, polisiewoordvoerder, gesê.
Die voorval het Saterdagaand in France fase vyf in Pietermaritzburg plaasgevind.
Jeevan het gesê die 18-jarige vrou en haar ma het geslaap toe hulle deur 'n man met 'n vuurwapen wakker gemaak is.
Die man het geld van die familie geëis.
"Hy het die huis geplunder en 'n Samsung-selfoon, twee Nokia-selfone en 'n Motorola-selfoon gesteel voor hy van die toneel gevlug het," het Jeevan gesê.
Die vrou en haar ma was bang dat die verdagte steeds in die gebied kan wees en het eers die volgende dag die polisie gekontak.
"Die slagoffer is na 'n kliniek in die Northdale-gebied geneem vir behandeling. Die verdagte het glo toegang deur die badkamervenster verkry. Niemand is in hegtenis geneem nie."
Persone met inligting kan speur. ao. Bheki Langa by 033 845 7724 of 078 712 4199.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA