Vrou voor kinders by vakansieoord verkrag
2011-11-23 11:02
Johannesburg – 'n Gautengse vrou is ten aanskoue van haar tienerseuns en hul vriende verkrag ure nadat hulle by die Meerensee-vakansieoord in Richardsbaai, noordelike KwaZulu-Natal aangekom het, het The Witness berig.
Die 38-jarige vrou van Vanderbijlpark en haar twee seuns is deur vier gewapende mans aangeval nadat hulle Maandagaand 21:00 by dié vakansieoord aangekom het.
Nadat hulle die vrou verkrag en die selfsorgeenheid geplunder het, het die vier na 'n ander eenheid op dieselfde erf gegaan en 'n bejaarde paartjie met 'n vuurwapen aangehou en beroof.
Volgens 'n vrou van die tweede eenheid, wat uit vrees vir haar veiligheid anoniem wil bly, moes die gewapende mans tussen 21:30 en 22:00 by die hek ingekom het.
Die perseel is omhein deur 5 m hoë mure en 'n elektriese hek.
"Die ander groep (van Vanderbijlpark) het pas hier aangekom en gevra of daar 'n winkel naby is omdat hulle 'n paar goedjies nodig het."
Volgens haar het die gewapende mans ingekom toe die groep die perseel verlaat omdat die mans hulle ingewag het toe hulle terugkom.
Die mans het dié mense na bewering in die huis gedwing en die vier tienerseuns is beveel om op die vloer te lê, terwyl die vrou in die bed verkrag is.
Die groep is toe deur die mans na die bejaarde paartjie se eenheid geneem, waarna dié paartjie beroof is.
Die mans het in die vrou se BMW X5 gevlug en gedreig dat hulle sou terugkeer.
Die mense het toe oor 'n muur gespring en is deur 'n dronk man, wat gereël het dat die polisie gebel word, gehelp.
Kapt. Debbie Ferreira het gesê niemand is in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.
Die vrou se BMW X5 is Dinsdagoggend teruggevind.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA