Vrou voor jong seuns op plaas doodgeskiet
2010-08-06 19:26
Gauteng - 'n 37-jarige vrou is voor haar twee jong seuns op 'n plaas in Cullinan doodgeskiet, het die polisie in Gauteng Vrydag gesê.
"Sy en haar twee seuns, vier en ses, het by die huis gekom en toe sy uit die motor wou klim, het twee mans haar probeer gryp," het Johannes Jaftha gesê.
Die voorval het net na 18:00 Donderdagaand plaasgevind.
Rianna Schoeman het in die huis gehardloop met haar twee kinders en teen die deur geleun om dit toe te maak.
Die polisie sê 'n skoot is van buite deur die venster gevuur en het Schoeman in haar bolyf getref.
Die rowers het met 'n skootrekenaar, selfoon en 'n onbekende bedrag geld gevlug.
Die seuns is ongedeerd.
Schoeman se man het omstreeks 19:00 met sy aankoms by die huis haar lyk ontdek.
Die man het sy vrou na die naaste hospitaal gehaas, waar sy met haar aankoms dood verklaar is.
'n Ondersoek van moord en huisroof word gedoen, maar niemand is nog in hegtenis geneem nie.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA