Vrou voel ‘Here se hand’ in operasie
2011-03-25 09:15
’n Bloemfonteinse vrou het onlangs ’n “diep geestelike ervaring” gehad het toe sy “die Here se Hand op haar kop gevoel het en Hy haar van die dood gered het”.
Sy wil graag die wonderwerk met mense deel.
Asminia Coetzee (57) sê sy wil nie vir mense preek nie, maar “ek kan eenvoudig net nie stilbly oor wat met my gebeur het nie”.
Op 5 Februarie het ’n klein slagaar van Coetzee begin bloei. Sy is inderhaas na die Universitas-hospitaal gebring en in die intensiewesorgeenheid opgeneem waar ’n noodoperasie op haar gedoen is.
“Daar is vir my gesê teen die tyd wat ek operasiesaal toe is, het ek geen pols meer gehad nie. Ek was ook bewusteloos.”
Sy was deurlopend bewus van ’n sterk drukking van ’n hand op haar kop en het ook ’n regterhand op haar kop gesien.
“Dit is moeilik om te verduidelik hoe die hand gelyk het. Ek weet ook nie of dit manlik of vroulik was nie. Maar daar was beslis ’n hand op my kop.”
Coetzee sê sy het byna vier liter bloed verloor en moes ook ’n bloedoortapping kry.
“Terwyl ek in die teatersaal gelê het, het ek geweet ek gaan doodgaan. Ek het geweet my hart en liggaam sal nie die geweldige bloedverlies kan hanteer nie. Maar toe ek die hand op my kop voel, het ek kalm geraak.”
Sy het merkwaardig vinnig herstel en is die volgende dag ontslaan.
“Toe ek by die huis kom, het ek die Bybel geneem en dit het by Psalm 20 oopgeval.”
Sy sê nadat sy dié hoofstuk, spesifiek vers sewe gelees het, weet sy sonder twyfel die Here het fisies Sy Hand op haar kop gehou.
Die versie lui: “Nou weet ek dat die Here sy gesalfde verlos. Hy sal hom verhoor uit sy heilige hemel met magtige dade van verlossing van sy regterhand.”
Coetzee sê sy is ’n lewendige voorbeeld van hoe God na Sy kinders omsien.
Dr. Stephen Grobler, ’n chirurgiese gastroënteroloog, wat Coetzee behandel het, sê Coetzee was in ’n lewensgevaarlike situasie.
“’n Klein, klein slagaar het aangehou met bloei nadat sy ’n paar dae vroeër ’n endelderm-operasie ondergaan het.”
Grobler sê sy was uitgebloei (hipovolemiese skok) en het nood-resussitasie ondergaan.
Vertragings kon fataal of derglik gewees het, sê hy.
- Volksblad