Vrou vertel hoe sy kroeg-skieter platduik
2011-01-11 09:19
Beeld
‘Hy wou my suster doodskiet en daarom het ek hom stormgeloop en platgeduik. Terwyl my arms nog om hom was, het hy die pistool teen sy ken gedruk en geskiet.”
So het Corné Diedericks (32) gister vertel van die bloedbad wat in die Scooters-kroeg en -eetplek in Fochville afgespeel het.
Mannes Janse van Rensburg (45) het voordat hy homself geskiet het minstens twee magasyne van sy pistool leeggeskiet op die mense wat in Scooters gekuier het.
Twee is dood, een ernstig beseer en nog twee gewond.
Hy was op soek na sy vrou, Waveney (38), wat die vorige dag na haar suster getrek het. Hy wou haar vermoedelik doodskiet. Hy het vermoedelik holpuntkoeëls gebruik wat ’n verwoestende effek het.
Net voordat Janse van Rensburg homself geskiet het, het hy Diedericks gevra om vir almal “ sorrie ” te sê.
“Daarna het hy ’n geruime tyd roggelgeluide gemaak en steeds gefluister hy is jammer,” het Diedericks vertel.
Sy het hom platgeduik toe hy omdraai om haar suster, Marlé Theron (35), eienares van Scooters in die Waterrite-gebou, weer te skiet nadat hy haar reeds in die arm gewond het.
“Maak jou oë toe, dit gaan nie mooi wees nie,” het hy aan Diedericks gesê.
Theron het gister vertel sy het gesien hoe Janse van Rensburg op haar afstap toe haar suster onverwags sy voete onder hom uitduik en bo-op hom beland.
Volgens Theron het Janse van Rensburg se vrou vyf maande gelede die kroeg se boekhouding begin doen en met die bestuur gehelp.
“Mannes was baie jaloers op Waveney. Hy het haar verbied om in die kroeg met klante te meng. Hy het die afgelope paar maande baie aggressief opgetree en hom aan die wêreld onttrek,” het Theron gesê.
Twee aande voor die skietery Saterdag het hy aan sy vrou gesê hy wil skei omdat daar nie meer vertroue in hul huwelik is nie. Sy het die volgende oggend by haar suster in Rustenburg gaan intrek.
Theron glo Janse van Rensburg het haar vir sy huweliksprobleme geblameer.
Theron en Diedericks het die aand gekuier saam met Theunis Marais (45), Diedericks se verloofde, Johan van Niekerk (35), sy vrou, Sammy, en hul seun, André (10). Charles Stockenstroom, ’n vriend, en sy seun, Jessie (11), was ook daar.
Die Van Niekerk-gesin het Scooters omstreeks 23:00 saam met Jessie verlaat.
“Ons het gedink ons hoor vuurwerk buite toe klein André daar instorm en skree: ‘My pa, my pa.’ Hy het gesê: ‘Die oom skiet my pa’,” het Theron gesê.
Stockenstroom is een keer in die bors geskiet toe hy wou uithardloop. Hy is op slag dood. Diedericks het die seuns (André en Jessie) agter ’n pilaar vasgedruk om hulle te beskerm. Marais is in die bobeen geskiet en toe hy val, is hy nog twee keer in dieselfde been getref.
“Mannes het agter die kroegtoonbank ingestap en Jeffrey Liza, die kroegman, doodgeskiet.
“Ek het na Marais gekruip toe Mannes onder die tafel na my loer, mik en my in die boarm skiet,” het Theron vertel.
Marais en Theron is dieselfde aand uit die hospitaal ontslaan. Van Niekerk is na die Chris Hani-Baragwanath-hospitaal in Johannesburg geneem. Die bene in sy gesig is vergruis en hy sal plastiese chirurgie moet kry, het Theron gesê.
- Beeld