Vrou verdrink toe motor in swembad beland
2010-08-03 03:32
Johannesburg – ‘n Vrou het verdrink en twee ander is beseer toe hul motor Maandag in ‘n swembad beland het, het die KwaZulu-Natalse paramedici gesê.
Die motor het meganiese probleme gekry toe dit by ‘n steil oprit in Pietermaritzburg afgery het, het Derrick Banks, ER24-woordvoerder, gesê.
Die motor het oor ‘n straat gekruis, oor ‘n lys gejaag en binne ‘n swembad beland.
Die swembad was een en ‘n half verdiepings onder die lys geleë, het Banks gesê.
Die man wat die motor bestuur het, het uit die voertuig gespring voordat dit die water getref het.
Drie vroue, tussen die ouderdomme van 40 en 70, was steeds binne die motor toe dit gesink het.
Lede van die publiek kon twee van die vroue uit die voertuig red en hulle bybring.
Die derde vrou is eers gevind toe die paramedici op die toneel verskyn.
Sy is op die toneel dood verklaar.
Die ander twee vroue is na die Pietermaritzburg Medi-Clinic geneem.
Die bestuurder het ligte beserings opgedoen.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA