Vrou vas wat man, dogter vermoor
2012-06-17 22:13
Johannesburg – ‘n Sewe-en-sestig-jarige vrou en haar dogter is in Tlhabologang in hegtenis geneem nadat hulle na bewering haar man en ‘n ander dogter vermoor het, het die polisie in Noordwes Sondag gesê.
Die vrou (67) is Saterdag in hegtenis geneem nadat sy skuld op die moorde beken het, het kapt. Tselane Nkala, polisiewoordvoerder, gesê.
Sy het haar 17-jarige dogter se verdwyning in 2009 aangemeld en haar man word sedert Mei verlede jaar vermis. Hy was in dié stadium 60 jaar oud.
Die polisie is in kennis gestel toe die man se familie by die huis na hom gaan soek het, het Nkala gesê.
Die vrou het aan die familie gesê sy het haar man begrawe.
Die beendere, wat vermoedelik dié van die vermiste man en tiener is, is gevind waar dit onder ‘n bed in die huis begrawe is.
“Volgens die ma het hulle albei gesterf en sy het besluit om hulle in die huis te begrawe, aangesien sy nie die geld gehad het om ‘n begrafnis vir die twee te bekostig nie.”
Die vrou en haar ander 16-jarige dogter is in hegtenis geneem.
“Die dogter is in hegtenis geneem en word as ‘n medepligtige beskou in die moord op die twee. Hulle word albei aangekla van moord.”
Hulle sal na verwagting Maandag in die Lichtenburg-landdroshof verskyn.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA