Vrou vas ná sy seun verkrag
2010-10-03 20:09
Johannesburg – ‘n Vrou is in hegtenis geneem nadat sy glo ‘n 14-jarige seun in ‘n nedersetting naby KwaMhlanga verkrag het, het polisie in Mpumalanga Sondag gesê.
Die vermeende misdaad het aan die lig gekom nadat die seun gevang is waar hy Vrydagmiddag by ‘n buurman se huis ingebreek en geld gesteel het, het woordvoerder sers. Nonhlanhla Kgosana Sondag gesê.
“Tydens ‘n konfrontasie oor sy misdaad, het die seun aan sy ma en die eienaar van die huis gesê dat ‘n vrou wat langsaan bly hom die vorige dag verkrag het. Hy het bygevoeg dat hy dringend geld nodig gehad het om ‘n tradisionele geneesheer te gaan sien, aangesien sy privaatdele gejeuk het.”
Die vrou is by haar huis in hegtenis geneem en aangekla van verkragting. Die seun is na die KwaMhlanga Hospitaal geneem vir behandeling.
Die tiener het glo aan die polisie gesê dat die verkragtings in Junie verlede jaar begin het. Die vrou het hom glo na skool na haar huis toe gelok.
“Die vrou sal die seun dan verkrag terwyl sy ma en haar man by die werk is.”
Die 36-jarige werklose ma van drie sal na verwagting Maandag in die KwaMhlanga landdroshof verskyn.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA