Vrou vas ná sy kinders glo rotgif voer
2010-10-21 11:50
Johannesburg – ‘n 28-jarige vrou is in hegtenis geneem nadat sy glo haar twee dogters in Philippi, Kaapstad, vergiftig het, het polisie in die Wes-Kaap Donderdag gesê.
Nadat sy die kinders glo Woensdag rotgif gegee het, het sy self van die gif ingeneem, het kapt. Ntomboxolo Sitshitshi gesê.
Haar eenjarige baba het gesterf in hul huis in Browns Farm. Die agtjarige dogter is in ‘n kritieke, maar stabiele toestand in die hospitaal.
Die ma is ook in ‘n stabiele toestand en onder polisie toesig in die hospitaal.
Sy het glo haar kêrel, wat ook die pa van die kinders is, Woensdagmiddag besoek om geld vir kos te vra, maar hy het niks vir haar gegee nie.
Die vrou staar ‘n klag van moord en poging tot moord in die gesig.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA