Vrou van seun se verkragting aangekla
2010-10-05 23:26
Kwamhlanga – ‘n 36-jarige, getroude ma van drie is in polisie-aanhouding nadat sy Dinsdag in die landdroshof op KwaMhlanga verskyn het in verband met die verkragting van ‘n 14-jarige seun.
Die vrou, van die dorp Moloto, word daarvan verdink dat sy die seun, wat langs haar woon, reeds sedert Junie verlede jaar verkrag.
Die polisie sê die seun het sy ma van die verkragtings vertel nadat hy gevang is terwyl hy Vrydag by ‘n huis in die dorp probeer inbreek het.
“Sy ma het hom geslaan omdat hy die huis se venster gebreek het. Hy het haar toe vertel hy wou geld kry om ‘n tradisionele geneser op die dorp te gaan sien omdat sy geslagsdele seer was," het Leonard Hlathi, woordvoerder van die polisie in Mpumalanga, gesê.
“Die seun het aan sy ma gesê die vrou het met hom seks gehad ná skool, terwyl haar man by die werk was.”
Die verdagte, wat nog nie gepleit het nie, sal weer Donderdag in die hof verskyn om vir borgtog aansoek te doen.
- Volg Nuus24 op Twitter
- African Eye