Vrou sukkel 5j. om ID te kry
2011-01-22 07:00
Beeld
Potchefstroom. – Connie Nel sukkel al vyf jaar lank om ’n ID te kry omdat iemand by die departement van binnelandse sake vermoedelik haar permanente verblyfsertifikaat opgeskeur het.
Die opgeskeurde stukkies is sonder enige verduideliking in ’n koevert gesit en aan binnelandse sake se kantoor in Vereeniging gestuur, lui ’n verslag deur Lerato Afilaka, ’n streekbestuurder van binnelandse sake in die Vereeniging-omgewing.
Beeld het die verslag onder oë gehad.
Nel kon volgens haar die afgelope vyf jaar nie ’n bankrekening oopmaak, werk kry, ’n pakkie by die poskantoor gaan afhaal of ’n rybewys kry nie.
Sy het in Julie 2005 by binnelandse sake in Vereeniging aansoek gedoen om ’n nie-residensiële ID.
Nel is ’n Zimbabwiër wat in 2004 saam met haar Suid-Afrikaanse man, Kobus, na die land gekom het.
“’n Permanente verblyfpermit is aan my uitgereik, maar my naam was verkeerd gespel en die sertifikaat is in 2005 na Pretoria teruggestuur om dit reg te maak.”
Nel moet dié permit hê om om ’n ID aansoek te doen. Nadat die sertifikaat na Pretoria is, het sy herhaalde kere by die Vereeniging-kantoor navraag gedoen.
“Hulle het elke keer gesê ek moet geduldig wees en weer aansoek doen om ’n ID. Ek het intussen vyf keer weer aansoek gedoen. Die laaste keer was in Januarie 2010.”
Afilaka het in Mei verlede jaar ’n verslag oor Nel se probleme aan die direkteur-generaal van binnelandse sake gestuur.
Hierin staan die departement se teenkorrupsie-eenheid het in 2005 op Nel se lêer beslag gelê toe amptenare by die Vereeniging-kantoor ondersoek is.
“Alle klagte teen die amptenare is eindelik laat vaar. Toe Nel se lêer in 2007 terugkom, was die permanente verblyfsertifikaat opgeskeur.”
Volgens Afilaka se verslag is Nel se permanente verblyfstatus steeds geldig en so aangedui op hul stelsel. Sy vra dat die direkteur-generaal ingryp en toesien dat ’n nuwe permanente verblyfsertifikaat aan Nel uitgereik word sodat haar ID-aansoek verwerk kan word.
“Die departement het Nel se aansoek nie gepas, regverdig en doeltreffend behartig nie en administratiewe kodes oortree,” lui die verslag.
Dis nou sewe maande ná Afilaka se verslag en Nel het steeds nie haar ID nie. Volgens Nel het binnelandse sake in Vereeniging onlangs gesê al haar dokumente is in orde en by hulle.
“Hulle het gesê hulle sal terugkom na my, maar dit het nog nie gebeur nie.”
* Die departement van binnelandse sake het nie op versoeke om kommentaar gereageer nie.
- Beeld