Vrou sterf toe vragmotor deur winkelsentrum ploeg
2012-01-24 10:00
Johannesburg – Een persoon het gesterf en drie ander is beseer toe ‘n vragmotor teen ‘n winkelsentrum in Pietermaritzburg vasgery het, het paramedici gesê.
Chris Botha, ‘n woordvoerder vir Netcare 911, sê die bestuurder van die vragmotor het Maandagaand beheer verloor en deur die Liberty Mall se parkeerterrein gejaag voordat die voertuig teen ‘n Absa-bank gebots het.
Hy sê ‘n vrou wat in die parkeerterrein gewag het, het op die toneel gesterf.
Drie ander mense, insluitende die bestuurder van die vragmotor, is na ‘n hospitaal geneem vir mediese behandeling.
Geen verdere besonderhede is verskaf nie.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA