Vrou sterf nadat sy in veldbrand beseer is
2011-09-06 09:04
Welkom – ’n Vrou van die stad wat verlede maand in ’n verwoestende veldbrand in die Noord-Vrystaat beseer is, is Maandagoggend in die hospitaal oorlede.
Christina Claassens (67), wat ’n asmalyer en diabeet was, is weens komplikasies in die hoë-sorgafdeling van die brandeenheid in die Pelonomi-hospitaal oorlede.
Haar seun, Nico Claassens, sê hy was haar dood te wagte.
Haar toestand het verlede week versleg nadat sy ’n terugslag gehad het.
Claassens sê dit gaan beter met sy suster, Carina (41), en susterskind, Adriaan (6), wat ook in die brand beseer is. Hulle word ook steeds in die hospitaal behandel.
Die drie is twee weke gelede op die pad naby Vredefort deur hewige veldbrande oorval. Hulle het probeer wegjaag, maar die motorbande het begin smelt en hulle het toe te voet probeer vlug.
Hulle het elk sowat 40% eerste- en tweedegraadse brandwonde opgedoen en skade aan hul lugweë weens rookinaseming.
Die familie het reeds ’n fonds gestig om die gesin op hul moeilike pad na herstel te help.
Die Claassense bedryf hul eie klein onderneming vanaf hul huis in Welkom. Die onderneming staan nou stil, hulle is sonder inkomste en die familie maak hulle reg vir ’n lang en moeilike pad na herstel.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Volksblad