Vrou sterf ná ‘lang wag op ambulans’
2010-09-18 21:07
Kroonstad – ’n Vrou wat rooirissies geëet het en uiteindelik vermoedelik weens voedselvergiftiging dood is, het in haar pyn en lyding lank op ’n ambulans gewag.
Boonop moes twee bejaarde mans wat moeilik loop, na bewering self met die siek vrou na die ambulans aansukkel toe dié glo eers ná ’n byna drie uur lange gesukkel en boonop sonder ’n draagbaar opgedaag het.
Die Vrystaatse departement van gesondheid ondersoek nou dié beweerde voorval verlede Vrydag wat glo Joey van Nieuwenhuis (65) se dood, ure later in die Boitumelo-hospitaal op Kroonstad, voorafgegaan het.
Sy is vermoedelik aan voedselvergiftiging dood.
Hannes Jooste (69), wat verblyf aan Van Nieuwenhuis en haar man, Piet, verskaf het, het Vrydag oor die gebeure gepraat.
Hy sê Van Nieuwenhuis het ’n mengsel van rooirissies uit ’n blikkie geskep en op haar brood gesmeer.
Hy het die blikkie sedertdien weggegooi en weet nie wat die produk se naam is nie.
“Sy was baie lief vir brandkos. ’n Uur later het sy begin siek word. Sy het gekla haar maag brand en sy is naar,” sê Jooste.
“Die middag het ek aangebied om haar hospitaal toe te vat, maar sy het gesê sy sal wag om te kyk of sy nie dalk later beter voel nie.”
Jooste sê teen die aand het Van Nieuwenhuis se toestand ernstig versleg. Sy het hom gevra om ’n ambulans te ontbied.
Volgens Jooste het hy ongeveer drie uur lank gespook om ’n ambulans te kry.
“Die hospitaal het nie die telefoon geantwoord nie. Ek kon ook nie deurkom na die polisie of brandweer nie,” sê Jooste.
“Ons kon nie bekostig om ’n private ambulans te ontbied nie.”
In sy gerondbellery het Jooste eindelik by ’n oproepsentrum in Johannesburg uitgekom. Dié het ’n ambulans gereël.
“Toe die ambulans opdaag, was dit nie met ’n draagbaar toegerus nie. Al loop ek baie moeilik, moes Piet en ek haar uit die huis na die ambulans dra. Paramedici het darem gehelp om haar in die ambulans te kry.
“Of sy in die ambulans regop gesit of plat gelê het, weet ek nie.”
Van Nieuwenhuis is in die hoë-sorgeenheid opgeneem, maar het later gesterf.
Sy is as armlastige begrawe (’n begrafnis waarvoor ’n munisipaliteit geld gee).
Van Nieuwenhuis woon steeds by Jooste. Sy vrou se dood is vir hom ’n ernstige terugslag.
Jabu Mbalula, woordvoerder van die departement van gesondheid, sê die voorval word ondersoek.
Volksblad het vroeër berig dat ’n ambulans van Kroonstad drie dae nadat dit ontbied is om ’n hoërskoolleerling te help wat met ’n stukkende bierbottel op Steynsrus gesteek is, steeds nie opgedaag het nie.
’n Erg bloeiende Theo Simamane (17) van die Gekombineerde Skool Steynsrus is drie uur ná die voorval per private ambulans na die Netcare-Kroon-hospitaal op Kroonstad gebring.
- Volksblad