Vrou sterf maand ná sy in kop geskiet is
2012-01-07 09:29
Johannesburg – ’n Vrou wat op 10 Desember in die kop geskiet is tydens ’n huisrooftog in Wonderboom, Pretoria, is Vrydagoggend vroeg in die Steve Biko-hospitaal oorlede.
Linda Coetzee was sedert die kopskoot waarin sy haar regteroog verloor het onder swaar verdowing in dié hospitaal.
Mike Bolhuis, spesialis-ondersoeker, het vroeër namens die gesin gesê as Coetzee wel sou bykom, sy ernstige breinskade sou hê.
Die vier rowers het haar seun Ruan (21) ses keer geskiet.
Hy is ’n paar dae later breindood verklaar.
Ruan se vriendin Rozanne Oeschger (20) is skrams in die been getref.
Coetzee se man, Kobus, ’n oud-Suid-Afrikaanse spiesgooier, is onlangs uit die Montana-hospitaal ontslaan nadat hy tydens die aanval twee keer in die maag geskiet is.
Die Coetzee-egpaar se jongste seun, Dewald (19), was nie tydens die aanval tuis nie.
Bolhuis het Vrydag gesê ’n tweede moordklag sal nou by die saak gevoeg word.
Niemand is nog in hegtenis geneem nie.
Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld