Vrou steel R5 milj, kry 12 jaar
2009-10-12 10:30
Rozanne Els
Kaapstad - Sy is ’n gereelde kerkganger, is betrokke in die gemeenskap, is deel van ’n ordentlike familie, maar sy het R5 646 272,80 by haar werknemer gesteel.
Streeklanddros Amrith Chabillal het pas in die Bellville-handelshof gewaarsku teen die wanpersepsies van wie ’n misdadiger kan wees, toe hy ’n 52-jarige vrou van Kuilsrivier tot 12 jaar tronkstraf gevonnis het vir bedrog.
Brenda Damon het die hof uitdrukkingloos verlaat terwyl haar geskokte familie na hul asem gesnak het.
“’n Mens moet wonder oor die definisie van ’n misdadiger,” het Chabillal in sy vonnisoplegging gesê. “Is dit net moordenaars en verkragters?”
Volgens Chabillal is witboordjiemisdaad soos bedrog baie ernstig en het dit veral ’n verwerende effek op die samelewing. “Diefstal van jou werkgewer is ’n skending van die werkgewer.”
Ofskoon Damon ’n eerste oortreder is en ook skuld op die 53 aanklagte van bedrog beken het, het sy dit eers gedoen toe sy reeds uitgevang is deur haar werkgewer, die rekenmeestersfirma Atlantic Trust Company.
“Sou sy dit gedoen het as sy nie uitgevang is nie?” het Chabillal gevra. Volgens hom is die feit dat sy ’n patologiese dobbelaar is en aan ’n ernstige dobbelverslawing ly, nie genoeg rede om Damon nie tronkstraf op te lê nie.
- Die Burger