Vrou steek 4-jarige aan die brand
2009-11-09 16:26
Johannesburg – ‘n Vrou van Oos-Londen is in hegtenis geneem nadat sy glo ‘n vier-jarige seun aan die brand gesteek het en sy dood veroorsaak het.
Volgens polisie in die Oos-Kaap het die vrou glo Sondagmiddag brandspiritus oor die seun uitgegooi en hom aan die brand gesteek. Die voorval het in die Mdantsane-nedersetting plaasgevind.
“Die vrou was onder die indruk dat die seun in haar huis wou inbreek. Die bure het gesien hoe die seun, bedek in vlamme, uit die huis gestorm kom terwyl hy skreeu en roep om hulp,” het kapt. Mluleki Mbi gesê.
Die bure het die vlamme geblus en die kind na ‘n nabygeleë hospitaal geneem. Hy is later as gevolg van sy brandwonde dood.
Mbi sê die seun het rondom 15:00 na die vrou se huis gegaan opsoek na ‘n maat om mee te speel.
Die vrou sal Dinsdag op ‘n klag van moord in die Mdantsane landdroshof verskyn.
- Sapa