Vrou sit ure lank met fetus in onderklere
2010-08-06 16:45
Durban - Die Prince Mshiyeni-hospitaal in Umlazi ondersoek die omstandighede wat daartoe gelei het dat 'n vrou 'n miskraam kry en gesê is om met 'n fetus in haar onderklere op 'n bankie te sit.
"Ons ondersoek wat Donderdag gebeur het. Ons het eers na 17:00 van die voorval gehoor," het Nonkululeko Ngcobo, woordvoerder van die hospitaal, Vrydag gesê.
"Ons het 'n vergadering met die hospitaalpersoneel gehad en die dokter wat in die saal was, is deur die hospitaalbestuurder gevra om 'n verslag in te dien oor wat gebeur het," het sy gesê.
Vroeër is berig dat die vrou reeds 'n miskraam gehad toe sy by die hospitaal opgedaag het.
Sy is ure alleen gelaat.
Ngcobo het gesê spesialiste by die hospitaal het die vrou besoek en sy is in 'n stabiele toestand.
"Ons wil ons simpatie aan die pasiënt oordra en om verskoning vra," het sy gesê.
Die ANC het gesê hy is woedend oor die "gru-voorval" by dié hospitaal.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA