Vrou pleeg selfmoord net voor man se roudiens
2010-02-19 06:43
Johannesburg - ’n Vrou het Donderdag selfmoord gepleeg sowat twee uur voordat haar vermoorde man se roudiens sou begin.
Hulle was sowat twee jaar lank getroud.
Farzaana Naidoo (23) sal Vrydag saam met haar man, Kushalen Naidoo (28), mede-eienaar van die Pretoria Blommemark, veras word.
Naidoo is Dinsdagaand in die parkeerterrein van Menlyn Motor City, in die ooste van Pretoria, doodgeskiet nadat ’n onbekende man op sy motor losgebrand het. Niks is uit die motor geroof nie.
Bala Naidoo (68), sy pa wat saam met hom die Pretoria Blommemark besit, het vroeër aan Beeld gesê dat Naidoo jr. op sy vrou, wat by die Varsity College studeer, gewag het.
Hy moes haar omstreeks 21:00 opgelaai het, maar het nooit opgedaag nie. Sy het haar swaer gebel om haar te kom haal. Hulle het die polisie gebel waarna hulle van sy dood ingelig is.
Kapt. Louise Reed, polisiewoordvoerder, het Donderdag gesê Farzaana het haarself Donderdagoggend in ’n vertrek van haar skoonouers se huis in Raslouw, Centurion, doodgeskiet.
Sy is omstreeks 11:00 dood verklaar. Dít was sowat twee uur voordat Naidoo jr. se roudiens sou begin. Reed het gesê die roudiens is afgestel en dat die egpaar vandag saam veras sal word.
Buiten vir die moordsaak wat ondersoek word ná Naidoo jr. se dood, sal ’n geregtelike doodsondersoek ook gedoen word na Farzaana se dood.
- Beeld