Vrou op VS-plaas geskiet
2011-09-02 12:26
Bloemfontein – ‘n Vrou is Vrydag in die Harrismith-omgewing op ‘n plaas geskiet, het die polisie gesê.
Die 53-jarige vrou het vroeg Vrydagoggend wakker geword toe sy haar honde hoor blaf het. Sy het opgestaan om ondersoek in te stel, het die Vrystaatse polisiewoordvoerder, sers. Mmako Mophiring, gesê.
‘n Onbekende aanvaller het die vrou van buite die huis geskiet en sy is in die bors gewond.
Sy was saam met haar twee kinders op die plaas Alfa en is na ‘n plaaslike hospitaal geneem vir behandeling.
Die polisie ondersoek ‘n saak van poging tot moord.
Mophiring sê enigiemand met inligting oor die voorval moet die polisie op Harrismith kontak.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA