Vrou, moordenaar dood gevind
2011-12-01 20:59
Johannesburg – ‘n Twee-en-dertig-jarige vrou en haar 21-jarige vermeende moordenaar is dood gevind in haar huis in Ngudwini, KwaZulu-Natal, het die polisie Donderdag gesê.
“Gisternag [Woensdagnag]... was Ntombenhle Luthuli by die huis met haar seun toe ‘n man van die woonbuurt en vier vreemdelinge die huis in gestorm het,” het kapt. Thulani Zwane gesê.
“Haar seun, wat gesien het sommige van die aanvallers was gewapen, het na nabygeleë bosse gevlug en weggekruip.”
Hy het later ‘n geweerskoot gehoor. Toe hy na die huis teruggekeer het, het hy sy ma se lyk met ‘n skietwond aan haar bors gevind. Sy het ‘n mes vasgeklou, het Zwane gesê.
Een van haar aanvallers, Zamokuhle Xulu, van die woonbuurt, se lyk is ook in die huis gevind. Hy is doodgesteek.
“Daar word vermoed dat mev. Luhuli terugbaklei het tydens die aanval en Xulu gesteek het,” het Zwane gesê.
‘n Saak van moord word ondersoek. Die polisie is op soek na die vier ander mans.
Zwane sê dit wil voorkom of die motief vir die aanval roof was, aangesien Luthuli ‘n snoepwinkel vanuit haar huis bestuur.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA