Vrou langs man se lyk verkrag
2012-12-12 07:07
Bloemfontein – ’n Vrou van Bloemfontein is herhaaldelik deur haar man se moordenaars langs sy lyk in die veld verkrag, het Volksblad Woensdag berig.
Verbygangers het waarskynlik die vrou (52), van die woonbuurt JB Mafora, se lewe gered toe hulle haar ná die verkragting weggeneem het voordat haar verkragters kon terugkeer, het haar seun (32) gesê.
Die seun het volgens die dagblad met woede gereageer op die aanval op sy stiefpa en sy ma die naweek.
“My eerste gedagte toe ek op die toneel aankom, was om moord te pleeg. As ek hulle in die hande gekry het, sou ek hulle doodgemaak het,” het hy gesê.
Die seun mag nie geïdentifiseer word nie om sy ma se identiteit te beskerm.
Volgens hom was sy ma en stiefpa omstreeks 20:45 op pad huis toe, toe hulle in die veld deur drie gewapende mans aangeval is.
Hy sê die aanvallers het hulle van R700 beroof, sy stiefpa in die bors gesteek en beurte gemaak om sy ma langs die lyk van sy stiefpa te verkrag.
“Dit is nog baie rou in my gedagtes en te seer om daaroor te praat,” het die vrou aan Volksblad gesê.
– Lees hier meer.
– Volg Nuus24 op Twitter.