Vrou laat rower tweede kom
2011-08-04 09:07
Pretoria – Moet nooit die lang arm van die gereg onderskat nie, veral nie as dit aan ’n fyn, blonde polisievrou behoort nie.
Twee rowers het die eerste ronde gewen toe hulle kapt. Retha Roodt in Julie beroof het.
Skaars twee weke later het sy een van hulle egter – op hoëhakskoene en al – gewys waar Dawid die wortels begrawe het: in die tronk.
Roodt, van die polisie-hoofkantoor in Pretoria, het op 8 Julie op die hoek van Von Hagenstraat en D.F. Malanrylaan in Pretoria-Wes by ’n verkeerslig stilgehou.
“Dit was so 16:00. My venster was op ’n skrefie oop. Mense het tussen die voertuie rondgemaal en goed verkoop.
“Ek het ’n gebrom by my venster gehoor en gesê: ‘Ek stel nie belang nie, dankie,’” het sy vertel.
’n Man by die venster het geantwoord: “I’m going to kill you!” Hy het ’n vuurwapen deur die venstergleufie gedruk. Nog ’n makker het nader gestaan.
Roodt het ewe ordentlik gesê: “Ek kan nie mooi hoor nie, laat ek net die radio sagter sit.”
Sy het die elektroniese venster probeer toemaak, maar die rowers het dit afgedruk.
Haar handsak en foon was onder haar sitplek, maar Roodt het besef sy moet saamspeel en het haar juwele aan die rowers gegee.
“Toe stap hulle nonchalant weg en gaan staan weer op dieselfde hoek. So asof niks gebeur het nie,” het sy gesê.
Sy het met “jellie-bene” weggery en die saak aangemeld.
Die Pretoria-Wes-polisie het duidelike vinger- en palmafdrukke op die motorvenster gevind.
Verlede Maandag sien Roodt die twee, met dieselfde klere aan, weer op dieselfde straathoek staan.
“Ek het besef hier is dalk ’n kans om hulle te vang,” het sy gesê.
Tuis het haar vriend, Willem Burger, ’n lid van die Hercules-gemeenskapspolisiëringsforum, die polisie gebel.
“Ek het saam met Retha na die plek gery. Sers. Andries Maree en studentekonst. Thabiso Makwarela was binne minute daar,” het Burger gesê.
Hy en die polisielede het na die verdagtes gestap, maar die twee het in verskillende rigtings tussen die voertuie deur gehardloop.
“Ek is agter die een aan. Ek het hom sommer so van agter aan die kraag gegryp en vangwa toe gevat,” het Burger gesê.
Dit was ook die man wat die vuurwapen vroeër op Roodt gerig het.
Sy het bygevoeg: “Willem het soos ’n vlakhaas gehardloop. Hy en die polisie was blitsvinnig. Ek, nog in my kantoordrag, is op my hoëhakskoentjies agterna,” het Roodt vertel.
Konst. Queen Mukwevho, polisiewoordvoerder in Pretoria-Wes, het gesê dié verdagte, ’n Mosambieker, word met sy vingerafdrukke aan nog vyf ander roofvoorvalle verbind.
Die ander man het weggekom.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Volksblad