Vrou in trourok begrawe
2009-08-28 07:28
Johannesburg - Die verloofde van ’n vrou van Witrivier wat vier dae voor haar troue in haar trourok begrawe is nadat sy glo deur rowers doodgeskiet is, verskyn vandag in die hof in verband met haar dood.
Die 40-jarige Althea Myburgh sou op 25 April met Hennie le Roux, 52, trou. ’n Lasbrief is Woensdag uitgereik vir Le Roux se inhegtenisneming op ’n klag van moord.
Le Roux het destyds vertel hoe hy en Myburgh in die jaar voor haar dood vyf keer by hul kleinhoewe buite Witrivier beroof is.
Hy het destyds aan Beeld vertel hoe Myburgh die aand van haar dood haar motor agter die huis geparkeer het terwyl hy die hek toegemaak het.
Hy het daarna glo ’n haelgeweerskoot hoor klap en gesien hoe twee mense weghardloop. Hy het op die mense geskiet.
Hy het met Myburgh na die hospitaal in Nelspruit gejaag, waar sy ná haar aankoms dood is.
Onraad is vermoed toe die lykskouing aan die lig gebring het dat die hoek waarteen Myburgh geskiet is, nie ooreenstem met polisieverklarings oor die voorval nie.
Beeld verneem betroubaar die lasbrief is gemagtig op grond van ballistiese bewyse. Daar is glo aanduidings dat Myburgh geskiet is met ’n haelgeweer waarmee ’n strik buite die huis opgestel is.
Myburgh, wat by ’n myn naby Witbank werk, se regsverteenwoordiger, mnr. Johann de Necker, het gister met die polisie ooreengekom dat Le Roux hom vandag aan die polisie sal oorgee.
- Beeld