Vrou in rolstoel brand dood
2009-11-30 17:35
Johannesburg – ’n Vrou wat gebonde is aan ’n rolstoel, het Maandagmiddag in haar Wendyhuis in Delft doodgebrand, het die Wes-Kaapse polisie gesê.
Kapt. Joe Wilson het gesê die polisie wat die middag die woonbuurt gepatrolleer het, het die rook omstreeks 13:15 by die huisie sien uitborrel en gaan ondersoek instel.
Mense het hard probeer om die brand te blus, maar dit was tevergeefs en die huis het afgebrand, het hy gesê.
Dit was eers nadat die vlamme deur brandbestryders geblus is, dat die polisie die slagoffer, Carol Poggenpoel (40) aangetref het.
Albei haar bene is na bewering geamputeer.
Sy was alleen gewees toe die brand uitgebreek het.
Die oorsaak van die brand is steeds onbekend.
Geen brandstigting word egter vermoed nie.
-Sapa