Vrou in Midrand met R5 milj. se dwelms betrap
2011-08-27 16:54
Johannesburg – 'n Vrou is Vrydagaand in Midrand in Gauteng in hegtenis geneem nadat dwelms met 'n geskatte straatwaarde van R5 miljoen in haar besit gevind is.
'n Woordvoerder van die polisie, kaptein Pinky Tsinyane, het gesê die polisie het op 'n wenk van die publiek gereageer en 'n klopjag op die huis uitgevoer.
Beslag is gelê op tik, sowel as chemikalieë en toerusting wat gebruik word om dwelms te vervaardig.
Die verdagte sal Maandag in die landdroshof op Midrand verskyn.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA