Vrou, hoender, boerbok sterf saam in ongeluk
2011-03-25 12:57
Durban – In ‘n vreemde sameloop van omstandighede is ‘n vrou, ‘n hoender en ‘n boerbok al drie Donderdagaand in ‘n motorongeluk in Durban gedood.
Twee ander mense is ook in die voorval beseer.
Luidens berigte blyk dit dat die trio die nag met die twee diere in ‘n Volkswagen Jetta op pad was na Durban toe die bestuurder beheer oor die voertuig verloor het.
Die bestuurder het die middelman op die skeiding tussen die N3 en M13 oorgesteek en die voertuig gerol.
Terwyl hy uit die motor geslinger is, het sy passasiers in die voertuig agtergebly totdat dit in ‘n wrak in die rigting van aankomende verkeer tot ‘n stilstand geskuur het.
Die bestuurder is in ‘n kritieke toestand, maar die oorlewende passasier het met geringe beserings weggekom.
Die vroulike slagoffer, in haar twintigs, is op die toneel dood.
Paramedici het ook ‘n dooie hoender en boerbok op die toneel gevind, wat saam met die trio gereis het.
Die man is op die toneel gestabiliseer en na ‘n hospitaal geneem.
Volg Nuus24 op Twitter.