Vrou gevonnis wat polisiekaptein-man laat vermoor
2011-07-12 19:44
Pretoria – ‘n Polisiekaptein se vrou, wat haar skelmpie oortuig het om haar man te vermoor, het gehuil toe ‘n regter in die Hooggeregshof in Pretoria hulle albei 24 jaar gevangenisstraf opgelê het.
Regter Jody Kollapen het Margaret Thole (29) en haar skelmpie, Kabelo Molopyane (30), gevonnis vir die moord in 2008 op Thole se man, kapt. Charles Thole.
Die 50-jarige kapt. Thole, ‘n voormalige MK-soldaat en ‘n lid van die polisie se BBP-beskermingseenheid, is dood nadat hy in die kop geskiet is by ‘n spaza-winkel wat hy by sy huis in Mamelodi-Wes bestuur het.
Die hof het getuienis gehoor dat Thole en haar skelmpie vroeër die dag by ‘n partytjie die plan uitgedink het om haar man te vermoor.
Thole het ter versagting van vonnis getuig dat haar man haar dikwels aangerand het. Sy ma, Daisy Thole, het egter getuig dat Thole nog nooit oor aanrandings gekla het nie.
Sy het gesê haar seun, wie se regterhand geamputeer is tydens sy tyd in ballingskap, het dikwels gekla dat sy vrou nooit by die huis was nie.
Regter Kollapen het die moord as “afskuwelik” beskryf.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA