Vrou gekaap, gewurg, vasgebind
2010-06-23 07:04
Susan Cilliers, Beeld
Johannesburg - ’n Vrou van Lichtenburg is Maandagoggend op pad werk toe gekaap, gewurg, vasgebind en met ’n wapen aangehou terwyl sy gedwing is om geld uit kitsbankkluise vir rowers te gee.
Die vrou, wie se naam die polisie nie bekend gemaak het nie, werk vermoedelik vir ’n bankgroep en is waarskynlik al ’n geruime tyd dopgehou, het kapt. Adéle Myburgh, polisiewoordvoerder, gesê.
“Sy was Maandag tussen 07:00 en 08:00 op pad werk toe toe een van die rowers langs haar in haar motor geklim het nadat sy by ’n stopteken stilgehou het.”
Die rower het ’n vuurwapen op haar gerig en haar beveel om na ’n nabygeleë sakesentrum waar ’n kitsbank is, te ry. “Sy moes die kitsbank se kluis met ’n kode oopmaak en geld in die kitsbank vir die rower gee,” het Myburgh gesê.
Daarna het die rower die vrou aangesê om na nog ’n winkelsentrum te ry. ’n Tweede rower het hulle daar gekry, waarna die vrou weer gedwing is om geld uit die kitsbankkluis vir hulle te gee.
“Hulle het haar toe vasgebind, iets in haar oë gespuit en haar gewurg. Die twee het toe met ’n silwer bakkie van die toneel gevlug.”
Veiligheidswagte het die vasgebinde vrou gevind, waarna sy na ’n hospitaal geneem is.
Die rowers is nog op vrye voet.
Die polisie ondersoek ’n saak van voertuigkaping en gewapende bankroof, maar wou nie bekend maak hoeveel geld geroof is nie.
Die polisie het enigiemand met inligting oor die voorval gevra om na die naaste polisiekantoor te gaan of dit by 08600 10111 aan te meld.
- Beeld