Vrou en hond laat kobras les opsê
2012-02-03 10:03
Johannesburg - Twee wipsnoetkobras het hul moses op ’n hoewe buite Pretoria teëgekom toe ’n dapper vrou en haar twee honde hulle gepak het.
Naomi Roux het Woensdag omstreeks 14:30 op die tweede verdieping in haar kantoor in haar huis by die Mooiplaats- hoewes oos van Pretoria gewerk toe sy haar twee honde buite hoor blaf en haar seuns op die eerste verdieping hoor skreeu het.
Sy het by die venster uitgekyk en gesien ’n slang van sowat 1,3 m is om haar labrador, Mojo, se nek gedraai. Terselfdertyd het sy gesien hoe Salute, hul Duitse herdershond-kruising, ’n ander slang naby ’n boom getakel het.
“Ek het die trappe afgehardloop en vir die huishulp geskreeu om die deur oop te maak,” vertel Roux.
Die huishulp, Portia Moyo, het die seuns, Kairon (5) en Astin (3), by haar gehou terwyl Roux buitentoe is om haar honde te gaan help. Sy het ’n graaf gegryp.
Toe sy by die honde kom, het sy “net begin slaan”. “Een van die slange het intussen weggekom terwyl ek en Salute alles moontlik probeer doen het om die ander slang van Mojo se nek af te kry.
“Ek was gereed om ’n mes te gaan haal om die slang van die hond af te sny,” het Roux gesê.
Salute het op daardie oomblik sy tande om die slang geslaan gekry en kon hom van Mojo afruk. Roux het die slang met die graaf doodgeslaan.
Die kobra het Mojo op sy bolip gepik. Roux het met hom na die Valley Farm-dierehospitaal gejaag.
“Sy gesig was opgeswel en skuim het by sy mond uitgekom,” het Roux gister vertel.
Volgens die veearts, wat om etiese redes nie haar naam genoem wil hê nie, is die hond teëgif toegedien en in die intensiewesorg-eenheid geplaas.
“Dit sal so 48 uur duur voordat hy volledig herstel het.”
Salute het ook die aand vir waarneming in die dierehospitaal deurgebring, maar is nie beseer nie. Hy is Donderdagmiddag huis toe, maar Mojo is Donderdagaand nog daar gehou totdat die swelling om sy keel gesak het.
“Dit is verskriklik om daai kobra so reg voor jou te sien staan. Maar ek het nie gehuiwer toe ek sien my diere word aangeval nie,” het Roux gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld