Vrou eis ná bors onnodig afgesit is
2011-11-24 09:02
Potchefstroom. – ’n Plaaslike vrou wie se regterbors in 2006 verkeerdelik verwyder is, eis R600 000 van Noordwes se LUR vir gesondheid.
Thandi Vana (37), ’n Childline-berader, het Woensdag vertel sy gebruik haar dogter se kouse om haar bra op te stop omdat sy nie geld vir toepasliker borsvervangers of rekonstruktiewe chirurgie het nie.
Vana het in 2005 probleme met ’n uitslag ondervind en is deur ’n plaaslike kliniek na die provinsiale hospitaal in Potchefstroom verwys.
Volgens hofstukke het Vana dié hospitaal en die Tshepong-hospitaal in Klerksdorp talle kere besoek. Onder andere ene prof. Decker en drs. Mandela en Jansen het glo Paget se siekte, ’n vorm van kanker, by haar gediagnoseer.
’n Mammogram van albei borste in Tshepong het nie kanker aangedui nie. Ook biopsies wat einde 2005 vir ontleding gestuur is, het luidens die hofstukke nie Paget se siekte aangedui nie.
Desnieteenstaande het die genoemde dokters Vana se regterbors luidens die hofstukke op 8 Maart 2006 verwyder. ’n Ontleding van die verwyderde bors het ook nie kanker aangedui nie.
Luidens die hofstukke het dokters op 4 April 2006 aan Vana erken sy is verkeerd gediagnoseer en haar bors verkeerdelik verwyder. Hulle het glo ook aangebied om rekonstruktiewe chirurgie te reël. Sy het egter alle vertroue in hulle verloor, lui die hofstukke.
Adele van der Walt van Pretoria, Vana se prokureur, voer aan die dokters was nalatig omdat hulle aanvaar het Vana het Paget se siekte en nie behoorlik ag geslaan het op die mammogram en laboratoriumtoetse nie of dit verkeerd geïnterpreteer het.
Vana eis vir onder meer emosionele skok en lyding, verlies aan lewensgenietinge, fisieke skending, verlies aan die moontlikheid om ’n normale huweliksverhouding met ’n man te hê en moontlik rekonstruktiewe chirurgie en hospitaalbehandeling in die toekoms.
Die LUR wyt die “verkeerde diagnose” aan die laboratorium wat die toetse gedoen het en voer aan die eerste weefselontleding van Vana se regterbors in November 2005 het kanker aangedui.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Beeld